Mentz herverkies as MRU President
Gedurende die jaarvergadering van die Mpumalanga Rugby Unie wat op 26 Februarie 2010 in Witbank gehou is, is Hein Mentz onbestrede herverkies as President van die Pumas.
Mentz wat in sy 2de Presidentsverslag van die Unie sy dank uitgepreek teenoor sy kollegas, die spelers en ondersteuners van die Pumas wat seker gemaak het dat 2009 op 'n hoë noot afgesluit kon word.
Tong in die kies het Mentz verwys na die goeie Curriebeker seisoen wat die Pumas in 2009 ervaar het. "Wat kan ek sê van 'n span wat presteer het soos die 2009 span? Wat ek wel weet is dat hulle ons in die moeilikheid in presteer het. 'n Begroting met 'n 60% wen bonus verander na 92% gerealiseerde uitbetaling, is 'n aangename nagmerrie!", het hy gesê.
Die uitdaging wat Mentz by die vergadering gelos het, is om te verseker dat Puma rugby al hoe meer en meer 'n faktor in SA rugby moet word, op alle vlakke.
As adjunk-president is Peter Lubbe onbestrede herverkies. Dokter André van Jaarsveld is verkies tot Vise-president. Ander lede van die Presidentsraad vir 2010/2011 is Louis Koen, Peet Prinsloo, Solly Janse van Rensburg en Steve Brits.


