Pumas hard aan die oefen
Die Pumas is hard aan die oefen vir die 2010 Vodacombeker-reeks wat dié naweek afskop.
Die Puma-afrigter, Jimmy Stonehouse is vol vertroue dat sy pak se gebrul dié seisoen ver gehoor sal word.
As daar gekyk word na hulle vertoning teen die Griffons die afgelope naweek dan is dit verseker dat die span se harde werk die afgelope paar weke mandjies vol vrugte gaan pluk. Die Pumas het die Griffons met 'n allemintige 64-16 gewen.
Ricardo Croy, een van die nuwelinge in die span het 'n fees op die veld gehad. Dié veelsydige speler van die Arende het reeds sy plek in Stonehouse se agterlyn los gespeel vir die komende naweek se kragmeting teen die Valke.
Nie alleen ryg hy drieë een na die ander in nie, hy is ook 'n uitstekende skopper. Hy het met al vyf sy doelskoppe teen die Griffons geslaag. Allistair Kettledas het ook weer bewys hoekom hy verlede jaar se top drie drukker was. Hy het twee drieë gedruk. Die res van die drieë is deur Coenie Nolte, Dawie Steyn, Brett Nel, Tiaan Meyer, Willem Serfontein, Martin Sithole, Hendrik van der Nest en Roelof Steyn gedruk. Meyer het ook met 'n doelskop geslaag.
Toeskouers kan vuurwerke met die agterlyn verwag omdat Stonehouse besluit het om Croy saam met Elgar Watts, Tiaan Marx, Roelof Steyn, Kettledas en Nicky Kritzinger te laat begin. Voorlangs gaan Stonehouse moontlik die Ronnie Uys, Ashley Buys, Luan Velthuizen, Jaco Bouwer, Brett Nel, Marius Coetser, Corné Steenkamp en Doppies le Roux kombinasie gebruik.
In die tweede helfte gaan Eduan van der Walt, Willem Serfontein, Tian Meyer, Sisiwe Magaba en Braam Pretorius ook speelkans kry.
Rosché van der Westhuizen, die jong stut van die Vrystaat en Jarrod Taylor wat gekontrakteer is om die leemte te vul wat deur Hannes Franklin wat nou Super 14 speel en Harry Vermaas en Torsten van Jaarsveld wat met beserings sukkel, te vul op haker, gaan op die bank begin.
"Dit is van uiterste belang dat ons die eerste wedstryd wen om dan reeds met bonuspunte in die sak die Bulle weg aan te durf," het Stonehouse gesê. Die Pumas pak die Bulle volgende naweek.
Die kragmeting teen die Valke begin Vrydag 26 Februarie om 19:00. Kaartjies beloop R60 vir volwassenes en R10 vir leerders. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.



