Carlos kom sy towerstaf swaai
Dié seisoen se rugbyprogram skop op 'n baie hoë noot af. Toeskouers word sommer van vroeg af bederf met uithaler-rugby voor die Vodacombeker-reeks afskop.
Die Lions se Super 14 span is Vrydagaand in aksie hier op die Puma Stadion.
Groot name soos die oud All Black, Carlos Spencer se rugbystewels gaan groot gate op die Pumas se A-veld maak. Spencer het in 35 toetse vir die All Blacks gespeel en was die geheime wapen in die Blues-span wat van die opwindendste rugby nog in die Super-reeks gespeel het. Ongelukkig sal Earl Rose as gevolg van 'n besering op die bank begin. Rose en Spencer in een span kan net vuurwerke afgee. Michael Killian sal Rose se plek inneem en Chris Jonck gaan as skrumskakel uitdraf. Ook gaan plaaslike toeskouers die kans gee om die Springbok loskop, Heinke van der Merwe en die Springbok slot, Jannes Labuschagne in aksie te sien. Die span word deur Baywatch Grobbelaar gelei. Dié staatmaker flank het reeds 57 Superwedstryde en 90 wedstryde vir die Leeus gespeel. Jonothan Mokuena, verlede jaar se kaptein van die Griekwas is ook in die span ingesluit.
Dusty Noble, Deon van Rensburg senter vir die Royal XV Leeus, Doppies la Grange, Wandile Mjekevu, Franco van der Merwe, Nico Luus en Kevin Buys is ook in Muir se planne vir Vrydagaand ingesluit.
'n Sterbelaaide reserwebank, wat ook deur Muir gekies is, sluit in Charles Emslie, Lawrence Sephaka, Jacque Lombard, Derrick Minnie, JP Joubert, Burton Francis, Wigan Pekeur, Tonderai Chavhanga, Rose en Danie Crous.
Die Puma-haker en kaptein Hannes Franklin kom teen sy spanmaats te staan.
Vir die Pumas het die afrigter, Jimmy Stonehouse besluit dat Ronnie Uys reg is om sy plek in die skrum vol te staan. Ashley Buys en Brett Nel gaan die skrums saam met Uys aanpak. Allistair Kettledas wat verlede jaar aangewys is as die Puma-speler van die Jaar is terug en gaan op die bank begin. Hy het vir die Leeus se Super 14 groep geoefen, maar is nie in die span ingesluit nie. Luan Velthuizen en Marius Coetser is op slot gekies. Om sy span volledig te maak is Corné Steenkamp, Jaco Bouwer, Doppies le Roux, Jacques Coetzee, Elgar Watts, Sisiwe Magaba, Tian Marx, Nicky Kritzinger, Braam Pretorius en Karl Bezuidenhout ook deur Stonehouse verkies.
Steenkamp is gekies as kaptein om die leisels stewig vas te vat in die kragmeting teen die Leeus.
Coetzee was die verrassingspakkie wat verlede Saterdag vir die Leeus se Super 14 span teen die Bulle gespeel het. Stonehouse is nie seker of die Leeus die Puma-skrumskakel ook gaan inkatrol nie. Die Puma-afrigter is opgewone oor die wedstryd wat voorlê, "Hierdie wedstryd kan 'n aanduiding wees van wat ons in die Curriebeker kan verwag. Dit sal ook goed wees om die spelers bewus te maak van die tempo wat die ouens handhaaf in die Premier liga."
Die Pumas speel Donderdag 4 Februarie teen die Valke. Die kragmeting begin om 18:30 en ingang in gratis.
Die wedstryde Vrydag 5 Februarie skop reeds om 16:30 af wanneer die Luiperds teen die Lions speel. Die hoofwedstryd tussen die Pumas en die Lions se Super 14 span skop om 18:30 af. Toegang beloop R50 per volwassenese en R10 per kind.



